Streven. Jaargang 82
(2015)– [tijdschrift] Streven [1991-]–
[pagina 431]
| |
Annemarié van Niekerk
| |
'n Laaste huldeBrink was aan boord van 'n KLM-vlug terug na Kaapstad, ná 'n besoek aan België vir die ontvangs van 'n eredoktoraat. Volgens Martin Buysse van die Universiteit van Leuven waar die graad toegeken is, het die keuse op Brink geval, saam met Eve Ensler (VSA) en Jean-Claude Guillebaud (Frankryk), omdat hulle ‘deur hul skryfwerk, as dade van blywende betrokkenheid, geveg het om spesifieke beleide en die gemeenskap in die geheel te verander’Ga naar eind[1]. Dit sou die laaste wees van Brink se vele internasionale erkennings - literêr en humanitêr - wat hy tydens sy lewe sou ontvang. Onder andere is al aan hom toegeken die Martin Luther King Memorial Prys (1980) wat jaarliks in Brittanje toegeken word aan nie-gewelddadige bevordering van geregtigheid en gelykheid, die Prix Médécis Étranger (1980), die benoeming as Commandeur de l'Ordre des Arts et de Lettres in Frankryk (1992), twee benoemings vir die kortlys van die Man Booker | |
[pagina 432]
| |
Prys en drie benoemings as kandidaat vir die Nobelprys vir Letterkunde. Die lys is veel langer. Tydens die ontvangs van die eredoktoraat in Leuven, begin Brink sy toespraak met die verhaal van Antigone, ‘die eerste mens in die geskiedenis wat werklik bekend geraak het daarvoor dat sy geweet het hoe om op die belangrikste oomblik van haar lewe “nee” te sê’ en daarom een van Brink se belangrikste voorbeelde in sy lewe. Hy het die studente in die gehoor gemaan om soekend te bly, aan te hou reis en vrae te vra, hulself ‘in die vreugde van onsekerheid te dompel’ en om soos Antigone ‘nee’ te sê indien nodig, ook teen ‘die sekerheid van mag’Ga naar eind[2]. | |
‘Waar is het engagement gebleven?’Skaars drie weke nadat Brink sy toespraak in Leuven gehou het, lewer Maarten Asscher die jaarlikse Kellendonk-lesing in Nijmegen. Sy onderwerp is: ‘Engagement, taal en verbeelding’. Hy begin sy lesing met verwysing na die brief wat die toenmalige Nederlandse minister-president Balkenende op 3 Oktober 2006 aan Harry Mulisch geskryf het, 'n brief wat waarskynlik tot vandag toe nog ontbeantwoord is. In die brief doen Balkenende ‘een ietwat treurigstemmend christen-democratisch appèl op het maatschappelijk geweten en het politieke bewustzijn van alle schrijvers, alle intellectuelen en alle kunstenaars van Nederland... om nu eindelijk eens een bijdrage te leveren aan “de vorming van de Europese identiteit”’. Balkenende wou weet: ‘Waarom horen we toch zo weinig van onze schrijvers?’. En wat hy wou hê was ‘een groot, vlammend publiek debat [...] over onze gezamenlijke toekomst [...] over dat wat ons bindt [...] over eenheid in verscheidenheid’. Hy sluit sy brief af met ‘waar is het engagement gebleven?’Ga naar eind[3]. Verregaande, vind Asscher sodanige opdragte aan skrywers, en verwys na die keer in Amsterdam toe André Brink kort na die val van die apartheidsregime gevra is wat hy, noudat apartheid nie meer daar was nie, sou gaan doen ‘aan de grote hoeveelheid nucleair afval in zijn land’. Volgens Asscher is ‘de gedachte dat een schrijver zich voor de oplossing van een dergelijk probleem verantwoordelijk zou moeten voelen [...] op het eerste gezicht absurd’Ga naar eind[4]. Hy glo skrywers moet skryf en hulself 100 persent vry voel om te skryf wat hulle wil; ‘hun hoofdtaak is om datgene te schrijven wat ze van zichzelf moeten schrijven, en niet om onder het motto “U vraagt, ik draai” als een journalistieke opinie-jukebox voor elk probleem een oplossing aan te dragen’Ga naar eind[5]. Maar as Asscher dan weer na die problematiek vanuit 'n ander hoek kyk, blyk dat 'n dergelike houding van afgekeerdheid van die buitewêreld die suggestie sou kon wek ‘dat literatuur als kunstvorm een irrele- | |
[pagina 433]
| |
vante versiering van de werkelijkheid is, een even onschuldige als zelfgenoegzame bezigheid die het schone cultiveert ten koste van het ware en het goede’. Volgens hom is daar niemand wat so 'n ‘totale non-opdracht’ vir die literatuur sou wou bepleit nie. | |
Literêre engagement en sy verskyningsvormeVervolgens bespreek Asscher die, volgens hom, verskillende verskyningsvorme van literêre engagement en doen dit in 'n literêr-beskoude ‘opgaande lijn’. Die eerste en mees basiese vorm is wanneer 'n skrywer aktief deelneem aan een of ander aksievoering en byvoorbeeld die bekendheid van sy naam gebruik om ondersteuning vir die saak te wen. 'n Eietydse voorbeeld wat hy noem is toe die Nederlandse skrywer Anton Dautzenberg in 2011 uit protes lid geword het van die intussen verbode pedofielevereniging Martijn. Dautzenberg, klaarblyklik geen pedofiel, verklaar sy aksie met die volgende uitlating: ‘Schrijvers moeten durven irriteren, verwarren en verwonden, ongeacht de gevolgen’Ga naar eind[6]. Volgens my is die laaste frase, ‘ongeacht de gevolgen’, 'n ietwat roekelose omgaan met die konsep van sosiale betrokkenheid. Sou engagement nie juis bedag moet wees op gevolge nie? Volgens Asscher is dit moeilik om hierdie soort aksievoering as ‘literêr’ te bestempel. Ek stem grootliks met hom saam, maar dat literêre status slaankrag verleen is nie te ontken nie. Hierdie verskyningsvorm mag nouwel nie literêre waarde hê nie, maar tog literary empowered influence. En juis daarom behoort 'n skrywer wel rekening te hou met sy invloed. Die tweede verskyningsvorm op Asscher se lysie is wanneer 'n skrywer, byvoorbeeld uitgedaag deur die aktualiteit, 'n skriftelike of mondelinge uitspraak maak oor een of ander kwessie. Hier speel taal 'n rol; volgens Asscher dus 'n rapsie nader aan literêre betrokkenheid as die vorige. 'n Hedendaagse voorbeeld wat Asscher noem is die Nederlandse skryfster en kriminoloog Andreas Burnier, wat in die midtagtigerjare van die vorige eeu en tydens die hoogtepunt van die Nederlandse euthanasie-debat, in 'n pamflet sterk kapsie maak teen hierdie vorm van lewensbeëindiging. Hier is, volgens my weer sprake van literêr-bemagtigde invloed. Die derde verskyningsvorm is wanneer 'n skrywer in sy werk 'n aktuele vraagstuk - sosiaal, maatskaplik of polities - aanspreek. Dit is byvoorbeeld ook waarvoor Thomas Vaessens pleit in sy De revanche van de roman. ‘De literatuur mag niet in een reservaat veranderen,’ sê hyGa naar eind[7]. Asscher waarsku tereg dat hierdie ‘vereiste’ nie beskou mag word as 'n voorwaarde vir waarde of kwaliteit nie. As die literêre krag van 'n werk deels geleë is in 'n maatskappy-dringende vraagstuk wat in 'n spesifieke | |
[pagina 434]
| |
literêre werk aangespreek word, soos byvoorbeeld in die poësie van Antjie Krog dikwels gebeur, kan engagement ook funksioneer as 'n literêre enjin. Die verskil lê dus in die aard van die funksie. In die vierde verskyningsvorm sien Asscher literêre kwaliteit en betrokkenheid in die taal fuseer en volgens hom is dít 'n hoë manifestering van literêre engagement. My interpretasie van Asscher se verduideliking is dat die gebruikers van 'n spesifieke taal en die beoefenaars van 'n spesifieke kultuur via hul taal en kultuur sleutels ontvang wat hul toegang gee tot sekere begrippe, waarmee hulle die wêreld en die belewing daarvan op spesifieke maniere kan interpreteer en verstaan; 'n spesifieke bewussynsvorm dus. Hierdie vorms van bewussyn is in verskillende tale of kulture verskillend. Vir my as immigrant, wat tussen twee tale en kulture staan, is hierdie taal- en kultuur-geïnskribeerde betekenisgewing geen abstrakte begrip nie, ek merk dit daagliks. Ter illustrasie gee Asscher onder andere die voorbeeld van die verskille wat bestaan tussen Vietnamese en Thaise aanspreekvorms, wat te make het met die gelaagdheid van die maatskappy. Elke spreker het dus ingemessel in die aard van sy taal- en kultuurgereedskap sekere taal-, kulturele en dus betekenis beperkings, wat ek as black holes interpreteer. Verwysend na sy voorbeeld van Vietnamese en Thaise aanspreekvorm-verskille, sê Asscher: ‘Taal, zo suggereert dit voorbeeld, weerspiegelt de sociaal-culturele werkelijkheid, en de sociaal-culturele werkelijkheid handhaaft zich op haar beurt weer in de taal.’ (blz. 12-13). Via 'n bespreking van Whorfianisme en die teenstanders daarvan kom Asscher uit by 'n hipotese dat elke mens wat homself wil uitdruk, woorde gebruik; hierdie woorde is aan hom oorgedra ‘als een overgeërfde stroom van cultuurtraditie gevoed door anderen die zich in diezelfde taal uitdrukken’; daarom vorm alle mense wat hulself in dieselfde taal uitdruk 'n gemeenskap wat onderling meer met mekaar in gemeen het as mense wat hulself in 'n ander taal uitdruk. Volgens Asscher is 'n taalgemeenskap dus te sien ‘als een gezamentlijk uitdrukking van bepaalde ideëen of beelden van de wereld, die eigen zijn aan die gemeenschap’. Alles goed en wel, maar ek vra myself af wat met hierdie laaste aspek gebeur wanneer dieselfde taal byvoorbeeld in dieselfde land gepraat word deur groepe wat weens sosiale-, politieke-, ekonomiese- en kultuurverskille nie net 'n totaal ander werklikheidsbeeld het nie, maar mekaar ook as ‘die ander’, selfs ‘die vyand’ beskou. Ek dink byvoorbeeld aan die Afrikaanse taal wat tydens apartheid as ‘die taal van die onderdrukker’ bekend gestaan het; dit was die taal van die regime maar terselfdertyd die moedertaal van baie mense wat aan die ontvangkant van die onderdrukking gestaan het. Geen wonder dat binne hierdie stryd, Afrikaanse een van die groot twispunte was nie. | |
[pagina 435]
| |
SkrywersrolAsscher keer dan terug na die rol van die skrywer. Volgens hom wil skrywers nie slegs met woorde iets uitdruk nie, maar veral ook iets skep; dít wat skrywers skep maak deel uit van en voed ‘de stroom van traditie in hun cultuurgemeenschap’; só dra skrywers by aan ‘de plaats die de cultuurgemeenschap waarvan zij deel uitmaken op dat moment inneemt in die wereld van alle cultuurgemeenschappen.’ (blz. 18-19) Deur bewus vir skrywerskap te kies, sê Asscher, stel skrywers aan hulself die opdrag om met die werk wat hul skep by te dra aan die rykdom van hul kultuurgemeenskap en ook aan die uitwisseling van die rykdom van alle ander kultuurgemeenskappe. Vir Asscher is dít die kern van die vierde en hoogste vorm van literêre engagement: ‘de opdracht die een schrijver aanvaardt door in de taal van de cultuurgemeenschap waartoe hij behoort de wereld onder woorden te brengen, door de wereld via zijn verbeelding in romans en verhalen te onderzoeken, door middel van essays te verkennen, in gedichten te verrijken en op het toneel tot leven te laten komen’. Dit beteken nie dat elke skrywer per definisie geëngageerd is nie, waarsku Asscher, maar om gradasies van literêre engagement. ‘Hoe groter zijn of haar bijdrage aan die literatuur en daarmee aan het culturele wereldbeeld van een taalgebied, des te groter is het engagement van een schrijver’ (blz. 19). Ek is dit grootliks eens met Asscher, maar vra myself af, hoe ‘die culturele wereldbeeld van een taalgebied’ geïnterpreteer word wanneer so 'n taalgebied uiteenlopende wêreldbeelde het, of as 'n skrywer geëngageerd skryf vanuit sy eie kulturele wêreldbeeld maar in 'n taal wat nie sy moedertaal is nie, of in die geval van vertalings? Asscher se vierde en laaste vorm van literêre engagement sou dus verfyn kon word om ook hierdie kwessies te akkommodeer. | |
Brink en die Asscher-skaalKom ons keer terug na wat Martin Buysse op 5 Februarie aan die Universiteit van Leuven oor Brink geê het, naamlik dat hy met sy skryfwerk as ‘dade van blywende betrokkenheid, geveg het om spesifieke beleide en die gemeenskap in die geheel te verander’. Met Brink se dood nog vars in my geheue het Asscher se redevoering van skaars 3 weke later, my onvermydelik laat nadink oor ‘die geval Brink’ op ‘die Asscher gradasie-skaal’. Hoe het Brink se engagement gemanifesteer en waarom was dit so besonders? Wie was die man, wat minder as vier maande voor sy 80ste verjaarsdag iewers in die lugruim tussen Europa en Suid-Afrika sterf? | |
[pagina 436]
| |
André P. Brink (o1935) is gebore op die klein dorpie Vrede in die Vrystaat waar sy pa magistraat was en sy ma Engels onderwysers. Na sy skoolopleiding is hy na die toenmalige Universiteit van Potchefstroom om Afrikaans te studeer. Die godsdienstig- en politiek-konserwatiewe student sou toe waarskynlik nie kon glo dat hy een van die belangrikste Afrikaanse skrywers sou word nie en boonop 'n uitgesproke teenstander van apartheid, die beleid wat deur die Nasionale Party ingevoer is toe hy maar nog 'n bogsnuiter van 13 was. Alhoewel hy as jong man 'n intellektuele spons was, sou die groot ommeswaai in sy lewe eers kom toe hy in 1960 met 'n studiebeurs Parys toe is. In Maart daardie jaar het die Sharpeville-massamoorde plaasgevind. Die 25-jarige Brink het nadat hy hierdie nuus ontvang het op 'n bankie in die Luxemburg-tuine gaan sit en probeer sinmaak van wat in sy land aan die gebeur was. Met die oë van die buitewêreld het hy na Suid-Afrika begin kyk, ook na die Suid-Afrikaanse geskiedenis; dit wat hy gesien het was skrikwekkend. Geleidelik is die grense van sy intellektuele, artistieke en politieke bewussyn verskuif, en het hy nog meer verbete as vroeër geskryf. Met sy terugkeer na Suid-Afrika was hy oortuig dat hy die Afrikaner polities en moreel sou aanvat, dat hy die taboes van die puriteinse, konserwatiewe gemeenskap sou uitdaag. En hy sou dit veral met fiksie doen, goeie fiksie. Die eerste stap in hierdie rigting was die roman, Lobola vir die lewe (1962) wat hy al in Parys begin skryf het. Daarna Die ambassadeur (1963) en Orgie (1965). Hierdie romans sou die begin wees van 'n oeuvre waarin hy inderdaad grense verstel en hewige reaksies ontlok het. Politieke-, kulturele- en kerkleiers het hul stemme dik gemaak. Hoe kon sulkevolksvreemde idees uitgespreek word in Afrikaans, die taal wat so lank 'n pilaar van Afrikaner nasionalisme was? Boonop deur iemand vanuit Afrikaner-geledere, wat intellektueel gevorm is aan die behoudende Universiteit van Potchefstroom. Brink is uitgemaak as 'n nesbesmetter, maar hy het niks minder verwag nie, sy besluit was waagmoedig. In 1968 keer hy vir 'n tyd terugkeer na Parys en word sy vasberadenheid om teen Apartheid te bly skryf versterk. ‘No Afrikaans writer has yet tried to offer a serious political challenge to the system... We have no one with enough guts, it seems, to say no,’ sê hy in 1970Ga naar eind[8]. | |
SestigersOok ander Afrikaanse skrywers is geïnspireer om teen die apartheidsbestel en kleingeestigheid van die Afrikaner te skryf, sommige minder ander meer eksplisiet. Behorende tot die laaste kategorie, was Breyten Breytenbach. Daar was ook ander soos Ingrid Jonker, Jan Rabie, Elsa Joubert, Etienne Leroux en Adam Small... 'n groep wat mettertyd be- | |
[pagina 437]
| |
kend sou word as Die Sestigers. Een van hul prioriteite was om voort te gaan om in hul eie taal te skryf en sodoende die bewussyn van hul eie kultuurgemeenskap te verbreedGa naar eind[9]. Brink sou saam met Breytenbach 'n kernfiguur wees. Anders as Breytenbach se relatief ontoeganklike, flow-of-consciousness poësie, wat meesal deur literêr-ingewydes gelees is en op universiteite gedoseer is, was Brink se fiksie veel toegankliker en breër gelees, sy taboe-onderwerpe 'n vanselfsprekende verleiding... 'n sappige soet verbode vrug. 'n Veilige rasionalisering vir die lesende ‘oortreder’ was die literêre kwaliteit van Brink se werk. Dan het die man ook nog slim en strategies geskryf; soos die eet van die vrug van die Boom-van-Goeden-Kwaad Adam en Eva bewus gemaak het van hul naaktheid, van die ware stand van sake, en daarmee hul rus verstoor het, so het Brink met sy boeke genot, maar ook onrus binne Afrikaner-geledere ontketen. Sy lesers sou nooit meer kon sê ‘ons het nie geweet nie’. Brink het die liefhebbers van Afrikaanse literatuur en kultuur, maar ook die ander nuuskieriges en soekers na verbode vrugte, inderdaad 'n sappige happie gegee, ook hoogwaardige literatuur, maar tegelykerheid gebeitel aan hul gewete. Die helde in Brink se fiksie was dikwels dissidente Afrikaners. Sy romans het ook volwaardige swart karakters gehad wat nie, soos die norm toe nog in die Afrikaanse letterkunde was, altyd bediendes, werkers of ondergeskikte karakters was nie. Hy het volgehou om in sy werk die ‘amptelike’ weergawe van die geskiedenis uit te daag, insluitende die tradisionele representasies van ras- en geslagrolle, van koloniseerder en gekoloniseerde. Verder het hy nie geskroom om eksplisiet oor seks te skryf nie, ook seks tussen wit en swart, wat toe nog in SA onwettig was. | |
'n KeerpuntIn 1973 verskyn Kennis van die aand, 'n keerpunt in Brink se oeuvre, want kort na verskyning word hierdie roman die eerste Afrikaanse boek met 'n algehele verbanning deur die destydse Sensuurraad. 'n Hofsaak het gevolg met 'n golf van publisiteit, plaaslik en in die buiteland. Ironies het hierdie stilmaakpoging gesorg dat Brink alom bekend geword het. Die Engelse vertaling van hierdie roman, Looking on Darkness word in 1975 die eerste boek van Brink wat in die VSA verskyn. Ander romans wat uit sy pen in die sewentigerjare verskyn het was 'n Oomblik in die wind (1975), Gerugte van reën (1978) en 'n Droë wit seisoen (1979), laasgenoemde verfilm met onder andere die akteurs Donald Sutherland, Susan Sarandon en Marlon Brando in hoofrolle. Die film is, nie onverwags nie, deur die Suid-Afrikaanse sensorraad verklaar as | |
[pagina 438]
| |
‘harmful to race relations and prejudicial to the safety of the state, the general welfare, and to peace and good order’Ga naar eind[10]. Dit was in hierdie tyd - die jare sewentig - wat Brink se werk tot die buiteland deurgedring het. Uiteindelik sou sy romans in 36Ga naar eind[11] tale vertaal word (die Engels het hy meesal self gedoen) waardeur die verhaal van die Suid-Afrikaanse realiteit wyd versprei het. In Nederland was hy een van die mees geliefde Suid-Afrikaanse skrywers waar vertalings soos Kennis van de avond en Geruchten van regen Nederlandse lesers onder die indruk gebring het van wat in Suid-Afrika aan die afspeel was, en waarskynlik ook 'n stimulus was vir die anti-apartheidsbeweging. Brink, lank ook professor aan die Universiteit van Rhodes in Grahamstad en later aan die Universiteit van Kaapstad, het 'n pynlike doring in die vlees van die Suid-Afrikaanse regering geword, maar hierdie skrywer, nou beskou as staatsvyand, het nie van keer geken nie. In die tagtigerjare verskyn die romans Houd-den-Bek (1982), Die muur van die pes (1984) en Die eerste lewe van Adamastor (1987), maar ook politiese essays soos Writing in a State of Siege. Essays on Politics and Literature (1983) waarin hy 'n betoog lewer ten gunste van ‘keeping alive the voice of reason in a demented world’Ga naar eind[12]. ‘Méér as enige politikus’, sê Breytenbach ná Brink se dood, ‘is dit iemand soos André wat ons [die Afrikaner], met kennis van die aand en van die gruwelike in ons, deur die drif kon kry na 'n meer menswaardige posisie’Ga naar eind[13]. | |
Politieke verandering in SAUiteindelik het die politieke situasie in SA verander. Dit is moeilik om te weet presies watter faktore en in watter mate elk bygedra het tot die klimaat wat die verandering moontlik gemaak het. In 1994 het Mandela tydens sy inhuldiging as eerste demokraties verkose president indirek erkenning gegee aan die rol van die letterkunde en veral die bydrae van Die Sestigers deur voor te lees uit 'n gedig van Ingrid Jonker, 'n prominente lid van dié beweging en 'n skrywer wie se werk Mandela gedurende sy 27 jaar in die gevangenis leer ken het. Dit was juis in die gevangenis wat Mandela via die Afrikaanse literatuur bewus geword het van andersdenkende Afrikaners. Dit was dieselfde skrywers en werk wat destyds die Afrikaner self ook bewus gemaak het van die euwels van hul eie gerieflike wêreld. Dus: die gedig as tweesnydende swaard, of pen in hierdie geval. Die lees van die Jonker-gedig tydens daardie spesiale geleentheid, aanskou deur die hele wêreld, was in vele opsigte 'n betekenisvolle gebaar. Mandela het laat sien hoe literatuur - kwaliteitsliteratuur, want hier is geen sprake van sloganeering nie - politiese brûe kan bou. Hy het sy hand via die Afrikaanse literatuur uitgesteek na die Afrikaner. | |
[pagina 439]
| |
Dis belangrik, soos Asscher in sy Kellendonk-lesing doen, om oor kuns as maatskaplike instrument te bespiegel, maar Mandela se gebaar op die 24ste Mei 1994 was 'n konkrete bewys van die mag en selfs versoeningskrag van die letterkunde. Dit laat my dink aan die The Paris Review Interviews-reeks met onder andere 'n interview uit 1969 met die Amerikaanse skrywer E.B. White (1899-1985) wat tydens sy gesprek gesê het: ‘Writers do not merely reflect and interpret life, they inform and shape life’. Miskien sou minister-president Balkenende in plaas van sy pleitbrief op 3 Oktober 2006, liewer uit die skatkis van geëngageerde Nederlandse letterkunde self 'n betekenisvolle gebaar kon maak. Uiteindelik was die nuwe demokrasie in SA gevestig, maar Brink het nie opgehou om ons in sy romans aan die verlede te herinner nie en ook om kommentaar te lewer op die nuwe werklikheid en sy nuwe probleme nie. In die negentigerjare verskyn Die kreef raak gewoond daaraan (1991), Inteendeel (1993), Sandkastele (1995) en Duiwelskloof (1998). En in die nuwe millenium volg Donkermaan (2000), Anderkant die stilte (2002), Voor ek vergeet (2004), Bidsprinkaan (2005) en Ander lewens (2008). | |
TeleurstellingMaar die wiel bly draai. Die ANC sou mettertyd baie volgelinge teleurstel. Brink, wat 'n groot ANC-ondersteuner was en selfs by Mandela op besoek uitgenooi was, was een van hulle. Ook Nadine Gordimer, een van Suid-Afrika se groot geëngegeerde skrywers. Hieroor praat Brink in 'n onderhoudGa naar eind[14] in 2000: ‘Dis 'n vreemde ervaring om vir jare vir iets te baklei en dan wanneer dit gebeur, die wonderlike gevoel te kry dat jy vir die eerste keer in jou lewe aan die regte kant is. Maar dan besef jy dat die onregverdighede van die verlede net in 'n nuwe gedaante steeds saam met jou is. ... Dis egter nie nét ontgogeling nie. Want jy onthou die wonderlike momente en jy weet jy sal deur werk daardie blêddie klip aanhou uitrol teen die berg.’ Brink verwoord ook sy teleurstelling in die ANC, veral hul lakonieke houding ten opsigte van misdaad, in sy memoires 'n Vurk in die pad (2009). In Nederlands verskyn dit onder die titel Tweesprong (2009). In 2010 stel Brink, saam met onder andere Nadine Gordimer, 'n petisie op om beswaar te maak teen die beoogde wet op die beskerming van inligting en ander wette wat spraakvryheid in Suid-Afrika kon bedreig. Hy neem ook deel aan die protesoptog na die parlement. Op Asscher se 4-benige skaal staan hierdie aksie op die 1ste en dus laagste. Of tel dit swaarder omdat dit oor spraakvryheid gaan? | |
[pagina 440]
| |
Enduit die gewete van sy menseBrink het tot sy dood nie opgehou met pogings om die verhaal van sy land en sy mense te vertel nie, om sy lesers te herinner aan daardie dele van die geskiedenis wat dikwels gemaksonthalwe vergeet word. So is sy heel laaste roman, Phillida (2012) 'n herinnering aan die Suid-Afrikaanse slawegeskiedenis. In sy huldeblyk aan Brink noem Breytenbach juis hierdie kenmerk - Brink se vermoë ‘om ons aan onsself te vertel’, as een van sy grootste bydraes as skrywer’. En dit is waarskynlik wat Asscher bedoel met die vierde en hoogste vorm van geëngageerde skrywerskap, naamlik ‘de opdracht die een schrijver aanvaardt door in de taal van de cultuurgemeenschap waartoe hij behoort de wereld onder woorden te brengen’ en sodoende by te dra aan die rykdom van sy kultuurgemeenskap en ook aan die uitwisseling van die rykdom van alle ander kultuurgemeenskappe. Implisiet sluit Breytenbach se beskouïng van Brink aan by Asscher se hoogste literêre engagement-kategorie as Breytenbach vermeld dat ‘danksy [Brink] daar paaie oopgemaak [is] na ander tale en kulture en leefwêrelde. Danksy iemand soos hy kon ons ook ons kop optel en sê dat ons uit die beste van ons deelgoedere geput het om daarmee te werk tot almal se voordeel’Ga naar eind[15]. Literatuur is op sy beste as die skrywer - soos Sophokles in Antigone - met sy verbeelding en kreatiewe krag 'n verhaal skep vanuit dit wat aan hom binne sy taal- en kultuurgemeenskap gebied word, maar wat meer word as net gelokaliseerde betrokkenheid, wat ook binne 'n groter wêreld en 'n groter tydspan geldig is. Die sosiale en die literêre stem in tandem, maar wel binne 'n sfeer van verantwoordelikheid. |
|